Word ‘n Cuppa For CANSA Gasvrou en Kies die Gesonder Opsie

English Press Release

7 Junie 2017 – Die Cuppa For CANSA-seisoen het amptelik op 7 Junie geopen met die bekendstelling van ‘n splinternuwe en gesonder opsie vir funksies. Die fondse wat in 2017 ingesamel word vir die #CuppaForCANSA -veldtog sal aangewend word vir KANSA se Sorgsentrums en spesifiek vir die versorging en ondersteuning wat KANSA bied aan almal wat deur kanker geraak word.

“Cuppa For CANSA” is ‘n prettige manier om broodnodige fondse in te samel wat KANSA in staat stel om in plaaslike gemeenskappe diens te doen. Die konsep van Cuppa kan aangepas word vir eindelose en vindingryke geleenthede en dit bied aan die gasvrou totale ‘artistieke beheer’. ‘n Cuppa-funksie kan klein of groot wees, dit kan aangebied word vir familie, vriende of kollegas en dit kan by enige plek gehou word. KANSA moedig gasvroue vanjaar aan om ‘n “gesonder opsie” te oorweeg. Tydens die funksie kan gesonde kos en drinkgoed aangebied word en resepte vir gesonde kos kan uitgeruil word,” sê KANSA se Hoof van Volhoubaarheid, Maria Scholtz.

Borge Maak Sorg- en Ondersteuningsprogramme Moontlik

“Ons is weereens baie dank verskuldig aan ons hoofborge, Shoprite en Checkers wat vanjaar weer die Cuppa-seisoen gaan borg. Soos in die verlede sal daar weer Cuppa-funksies in Shoprite en Checkers winkels aangebied word waar die publiek betrokke kan raak en die veldtog ondersteun. Glen Rooibos steun vir die tweede agtereenvolgende jaar ook die Cuppa-inisiatief. Shoprite, Checkers en Glen Rooibos het KANSA verlede jaar gehelp om meer as R4 miljoen in te samel. Dit is vennote soos hierdie wat dit vir ons moontlik maak om ons sorg- en ondersteuningprogramme in plaaslike gemeenskappe voort te sit,” voeg Scholtz by.

Cuppa ‘Gesonder Opsie’ Resep Kompetisie

Vir die 2017 Cuppa-seisoen loods KANSA ‘n “gesonder opsie” resep kompetisie. Gasvroue van Cuppa-funksies kan aan die kompetisie deelneem deur hul gesonder en alternatiewe resepte vir kolwyntjies (“cupcakes”) in te stuur. Pryse vir die lekkerste en gesondste kosresepte is op die spel. KANSA staan ‘n “gesonde leefstyl” voor en om gesond te lewe, moet jy slim en ingeligte keuses oor gesonde kos maak en dit wat jy eet en drink, geniet. Ons hoop van harte dat ons Cuppa-deelnemers ons sal ondersteun deur gesonde en alternatiewe keuses van geregte en drinkgoed aan te bied vir Cuppa-funksies,” sê Scholtz.

Vanjaar se Fokus

Die fokus vir vanjaar se Cuppa is om fondse in te samel en om bewustheid te kweek vir KANSA se Sorgsentrums. Ons het meer as 30 Sorgsentrums regoor Suid-Afrika. Hierdie sentrums bedien meer as 300 gemeenskappe en bereik meer as 92 000 kankerpasiënte en hul gesinne (statistieke van 1 April 2016 – 30 Maart 2017). Die SorgSentrums bied ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste wat die volgende insluit: siftingstoetse vir kanker, berading en ondersteuningsgroepe, opvoeding oor kanker deur middel van gesondheidsinligting, toesprake wat handel oor gesondheid en uitstallings, inligting oor KANSA Sorg Tuistes en TLC Tuistes, ens.

Enigeen kan ‘n Cuppa gasheer of gasvrou word. Kontak net jou plaaslike KANSA Sorgsentrum of maak gebruik van die handige wenke wat beskikbaar is die webwerf www.cuppa.org.za

“Vir vanjaar se Cuppa-veldtog het ons pragtige bekers om te koop vir R55 elk. Hierdie bekers is ‘n waardevolle herinnering wat jou altyd aan die Cuppa-seisoen en Cuppa-funksie van 2017 sal laat dink. Ons moedig jou aan om deel te wees van Cuppa 2017 – word ‘n gasheer of ‘n gasvrou van ‘n funksie of daag op as ‘n gas by enigeen van KANSA se Cuppa’s. Wees kreatief en innoverend en bied ‘n spesiale Cuppa aan,” voeg Scholtz by.

Sluit by ons aan en praat saam. Gebruik die hutsteken: #CuppaForCANSA #ActForChange

Meer Oor KANSA

KANSA bied ‘n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en mense geaffekteer deur kanker. As ‘n leidende rolspeler in kankernavorsing (meer as R12miljoen jaarliks spandeer) word die wetenskaplike bevindinge en kennis wat deur ons navorsing opgedoen word, gebruik vir ons gesondheidsprogramme en om ons rol as waghond tot groter voordeel van die publiek te versterk.

Ons gesondheidsprogramme bestaan uit bewusmaking van gesondheid, siftingstoetse vir kanker en veldtogte oor gesondheidopvoeding, KANSA Sorgsentra wat ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste bied aan mense wat deur kanker geraak word, stoma en ander kliniese ondersteuning en organisatoriese bestuur, verhuring van mediese toerusting sowel as a tolvrye nommer wat geskakel kan word om inligting en ondersteuning te bekom.

Ons verskaf ook pasiëntesorg en ondersteuning in die vorm van 11 KANSA Sorgtuistes in die hoof metropolitaanse areas vir weg-van-die-huis kankerpasiënte plus een hospitium in Polokwane, sowel as KANSA-TLC verblyf aan en ondersteuning van ouers en voogde van kinders wat behandeling vir kanker ontvang.

Navrae

Vir meer inligting kontak KANSA tolvry op 0800 22 66 22 of stuur ‘n epos aan: info@cansa.org.za – volg KANSA op Facebook | Twitter | Instagram

DO YOU HAVE A QUESTION?
 

Ask CANSA